Tuisblad

Paulandi bied lafenis en rustigheid vir die siel in Bosveldparadys. Dis geleë in malariavrye Leeupoort Vakansiedorp, in die Thabazimbi-distrik, Limpopo, op die R516, sowat 58 km vanaf Thabazimbi en 72 km vanaf Bela-Bela.

 

Paulandi is ’n selfsorg bosveld vakansiehuis waarin 4 mense kan slaap, in ’n natuurreservaat, omring deur die Waterberge. Die reservaat is die tuiste van 50 soorte soogdiere, 170 soorte voëls en 114 boomspesies. Die wild loop in die strate en wei tussen die huise. Hier bestaan ’n besonderse band wat deur die jare tussen mens en dier gesmee is.

 

      

 

Daar is heelwat wandelpaadjies wat kronkel deur ’n wye verskeidenheid inheemse bome. Besoekers het van 07:00 – 18:00 vry toegang tot die 823 ha natuurreservaat waar hulle kan stap, draf, fietsry of motorry. Daar is kameelperde, wildebeeste, ’n verskeidenheid boksoorte en ander wild te sien.

 

      

 

Leeupoort het ’n gematigde klimaat regdeur die jaar. Dit is warm in die somer met ’n hoë reënval van September tot April, en is bekend vir donderstorms in die middae. Gedurende die droë wintermaande bly die klimaat matig, hoewel temperature aansienlik daal in die nag.

 

Die welige bosveldplantegroei bied genoeg weiding vir ’n verskeidenheid wild soos kameelperde, blouwildebeeste, elande, koedoes, rooibokke, njala, vlakvarke en sebras.  Dit is ’n paradys vir voëlliefhebbers.